Jacob Cornelius Steyn is op 31 Julie 1938 op die plaas Mara, distrik Fouriesburg, in die Vrystaat gebore. Aan die einde van 1944 is sy ouers na die distrik Petrus Steyn, en hy was daar in ’n plaass...lihat lebih banyakJacob Cornelius Steyn is op 31 Julie 1938 op die plaas Mara, distrik Fouriesburg, in die Vrystaat gebore. Aan die einde van 1944 is sy ouers na die distrik Petrus Steyn, en hy was daar in ’n plaasskool en daarna die hoërskool op Petrus Steyn.
Van 1958 tot 1958 was hy heeltydse student aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en behaal die BA-graad met onderskeidings in die hoofvakke Afrikaans-Nederlands en Duits. Terwyl hy van 1959 tot Julie 1964 verbonde is aan die Bloemfonteinse dagblad, Volksblad, behaal hy as deeltydse student die M.A. in Afrikaans en Nederlands (cum laude).
Van September 1964 tot Desember 1967 studeer hy aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam, waar hy die doktoraal-eksamen in 1966 (cum laude) behaal met hoofvak algemene taalwetenskap en byvakke Nederlandse taalkunde en Suid-Sotho.
Van 1968 tot Junie 1970 was hy lektor in algemene taalwetenskap aan die Universiteit van Port Elizabeth, en daarna tot Maart 1985 aan die Randse Afrikaanse universiteit. Vir 'n kort periode – van Julie 1974-Augustus 1975 – was hy verbonde aan die hoofredaksie van Rapport. Sy doktorsgraad verwerf hy in 1968 aan die Universiteit van Port Elizabeth. Van April 1985 tot Desember 1997 was hy professor/navorser aan die Universiteit van die Vrystaat.
Steyn het honderde koerantartikels oor veral taalpolitiek geskryf, asook sowat honderd artikels in vaktydskrifte en boeke. Hy is die skrywer van ’n digbundel Die grammatika van liefhê (1975), en die volgende prosawerke: Op pad na die grens (1976), Dagboek van ’n verraaier (1978), Die verlore vader (1985) en Hoeke Boerseuns ons was (1991).
Ook van ’n aantal nie-fiksiewerke is hy die outeur. Hulle is Tuiste in eie taal (1980), Trouwe Afrikaners. Aspekte van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek 1875-1838 (1987), Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal (1998), Penvegter: Piet Cillié van Die Burger (2002) en Die honderd jaar van M.E.R (2004). Verder is hy die skrywer (en in enkele gevalle medeskrywer) van 21 van die 22 artikels in W.D. Beukes (redakteur) en J.C. Steyn: Boekewêreld. Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990 (1992). Behalwe laasgenoemde (wat by Nasionale Boekhandel verskyn het) is al die boeke deur Tafelberg uitgegee.
Steyn het ses keer pryse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Dit is die Eugène Maraisprys vir debuutwerk vir Die grammatika van liefhê (1976), die C.J. Langenhovenprys vir taalwetenskap (1988), die Elisabeth Eybersbeurs vir navorsing in Nederland (1996), die N.P. van Wyk Louwmedalje vir skeppende bydraes tot die ontginning van sekere vakgebiede (2000), die Stalsprys vir geskiedwetenskappe vir N.P. van Wyk Louw – ’n lewensverhaal (2003) en die Louis Hiemstraprys vir nie-fiksie vir Die 100 jaar van M.E.R (2005).
Ander pryse wat hy ontvang het, is die Ingrid Jonkerprys vir sy poësiedebuut Die grammatika van liefhê (1976), twee keer die Recht Malan-prys vir nie-fiksie vir Tuiste in eie taal (1981) en N.P. van Wyk Louw – ’n lewensverhaal (1999), die Louis Luytprys vir Tuiste in eie taal (1981), en die Insig-prys vir nie-fiksie (2000) vir N.P. van Wyk Louw – ’n lewensverhaal. Die Recht Malan-prys vir nie-fiksie is ook in 1993 aan die redakteur en skrywers van Boekewêreld. Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1992 toegeken.lihat lebih sedikit